Psalms
Hoofstuk 38
‘n Psalm van Dawid, by die gedenkoffer. (38:2)O HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie.  
2 (38:3) Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal.  
3 (38:4) Daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie; daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie.  
4 (38:5) Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ‘n swaar pak het hulle vir my te swaar geword.  
5 (38:6) My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid.  
6 (38:7) Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou;  
7 (38:8) want my lendene is vol ontsteking, en daar is geen heel plek in my vlees nie.  
8 (38:9) Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart.  
9 (38:10) Here, voor U is al my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie.  
10 (38:11) My hart slaan vinnig, my krag het my verlaat; en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie.  
11 (38:12) Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan;  
12 (38:13) en die wat my lewe soek, span strikke; en die wat my ongeluk soek, spreek van ondergang, en hulle bedink die hele dag bedrog.  
13 (38:14) Maar ek is soos ‘n dowe: ek hoor nie, en soos ‘n stomme wat sy mond nie oopmaak nie.  
14 (38:15) Ja, ek is soos ‘n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie;  
15 (38:16) want op U, HERE, wag ek; U sal verhoor, Here my God!  
16 (38:17) Want ek het gesê: Laat hulle net nie bly wees oor my nie! Hulle wat by die wankeling van my voet hul groot maak teen my!  
17 (38:18) Want ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my.  
18 (38:19) Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.  
19 (38:20) Maar my vyande lewe, hulle is magtig; en die wat my valslik haat, is groot in aantal.  
20 (38:21) En die wat kwaad vir goed vergeld, behandel my vyandig, omdat ek die goeie najaag.  
21 (38:22) Verlaat my nie, o HERE! My God, wees nie ver van my af nie!  
22 (38:23) Maak tog gou om my te help, Here, my heil!