Lukas - Luke
Hoofstuk 13
En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.
2 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het?
3 Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.
4 Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?
5 Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.
6 En Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: ‘n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie.
7 Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar?
8 Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het.
9 As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.
10 En Hy was besig om op die sabbat in een van die sinagoges te leer.
11 En daar was ‘n vrou wat ‘n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie.
12 En toe Jesus haar sien, roep Hy haar en sê: Vrou, jy is van jou krankheid verlos.
13 En Hy het haar die hande opgelê, en onmiddellik het sy regop gestaan en God verheerlik.
14 Maar die owerste van die sinagoge, wat verontwaardig was dat Jesus op die sabbat genees het, antwoord en sê vir die skare: Daar is ses dae waarop ‘n mens behoort te werk; kom dan op dié dae en laat julle genees en nie op die sabbatdag nie.
15 Toe antwoord die Here hom en sê: Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op die sabbat sy os of esel van die krip los en lei hom weg om hom te laat drink nie?
16 Maar hierdie vrou wat ‘n dogter van Abraham is, wat die Satan—dink daaraan! —agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie?
17 En toe Hy dit sê, het al sy teëstanders beskaamd geword; en die hele skare was bly oor al die heerlike dinge wat deur Hom gebeur het.
18 En Hy het gesê: Hoedanig is die koninkryk van God en waarmee sal Ek dit vergelyk?
19 Dit is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man geneem en in sy tuin gesaai het; en dit het gegroei en ‘n groot boom geword, en die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke.
20 En weer het Hy gesê: Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk?
21 Dit is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.
22 En onderwyl Hy geleer het en op reis was na Jerusalem, het Hy stede en dorpe deurgegaan.
23 Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle:
24 Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.
25 Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, Here, maak vir ons oop—sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie.
26 Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer.
27 En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!
28 Daar sal geween wees en gekners van die tande, wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van God sal sien, maar julle self uitgedryf buitentoe.
29 En hulle sal kom van oos en wes en van noord en suid en aansit in die koninkryk van God.
30 En daar is laastes wat eerste sal wees, en daar is eerstes wat laaste sal wees.
31 En op dieselfde dag het sommige van die Fariseërs na Hom gekom en vir Hom gesê: Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring.
32 En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar.
33 Maar Ek moet vandag en môre en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie gebeur dat ‘n profeet buitekant Jerusalem omkom nie.
34 Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie.
35 Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat. Voorwaar Ek sê vir julle dat julle My sekerlik nie sal sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!