Hosea

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14


Hoofstuk 14

(14:2)

Bekeer jou, Israel, tot die HERE jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid.
2 (14:3) Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied.
3 (14:4) Assur kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie en tot die werk van ons hande nie meer sê: Onse God nie! Want by U vind die wees ontferming.
4 (14:5) Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.
5 (14:6) Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon.
6 (14:7) Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van ‘n olyfboom en sy geur soos die Líbanon.
7 (14:8) Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon.
8 (14:9) Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos ‘n groen sipres; uit My word jou vrug gevind.
9 (14:10) Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let! Wie verstandig is, laat hom dit erken! Want die weë van die HERE is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!