Esegiël - Ezekiel

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48


Hoofstuk 9

Daarna het Hy hardop voor my ore geroep en gesê: Kom nader, geregsdienaars van die stad, en elkeen met sy verwoestende wapen in sy hand.
2 En kyk, ses manne kom met die pad van die Boonste Poort wat na die noorde toe lê, en elkeen met sy wapen in sy hand om mee te verbrysel; en onder hulle een man wat met linne bekleed was, met ‘n skrywer se inkpot aan sy heupe; en hulle het gekom en vlak by die koperaltaar gaan staan.
3 En die heerlikheid van die God van Israel het opgestyg van die gérub waar dit op was, na die drumpel van die huis toe; en Hy het na die man geroep wat met linne bekleed was, wat die skrywer se inkpot aan sy heupe gehad het.
4 En die HERE sê vir hom: Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak ‘n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word.
5 Maar aan die ander sê Hy voor my ore: Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie verskoon nie, en moet nie spaar nie;
6 slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom. En hulle het begin by die manne, die oudstes, wat voor die huis was.
7 En Hy sê vir hulle: Verontreinig die huis en maak die voorhowe vol met mense wat verslaan word. Trek uit! En hulle het uitgetrek en geslaan in die stad.
8 En toe hulle besig was om neer te slaan en ek oorgebly het, het ek op my aangesig geval en uitgeroep en gesê: Ag, Here HERE, gaan U die hele oorblyfsel van Israel vernietig deurdat U u grimmigheid oor Jerusalem uitgiet?
9 Toe sê Hy vir my: Die ongeregtigheid van die huis van Israel en van Juda is buitengewoon groot, en die land is vol bloedskuld, en die stad is vol regsverbreking; want hulle sê: Die HERE het die land verlaat, en die HERE sien nie.
10 Daarom ook, wat My aangaan, my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal hulle wandel op hulle hoof laat neerkom.
11 En kyk, die man wat met linne bekleed was, aan wie se heupe die inkpot was, het berig gebring en gesê: Ek het gedoen soos U my beveel het.