2 Konings - 2 Kings

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25


Hoofstuk 14

In die tweede jaar van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, het Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, koning geword.
2 Vyf en twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het; en nege en twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Joáddan van Jerusalem.
3 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, hoewel nie soos sy vader Dawid nie; net soos sy vader Joas gedoen het, het hy gedoen.
4 Net die hoogtes is nie afgeskaf nie: die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan.
5 En sodra die koningskap in sy hand bevestig was, het hy sy dienaars, die moordenaars van sy vader, die koning, omgebring.
6 Maar die kinders van die moordenaars het hy nie laat doodmaak nie, soos geskrywe is in die wetboek van Moses, waar die HERE dit beveel het: Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; maar elkeen moet vir sy eie sonde sterwe.
7 Hy het die Edomiete in die Soutdal verslaan, tien duisend man, en Sela in die oorlog verower en dit Jókteël genoem, tot vandag toe.
8 Toe stuur Amásia boodskappers na Joas, die seun van Jóahas, die seun van Jehu, die koning van Israel, om te sê: Kom, laat ons mekaar se aangesig sien.
9 Maar Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, dít laat weet: Die distel wat op die Líbanon is, het die seder wat op die Líbanon is, laat weet: Gee jou dogter aan my seun as vrou! Maar die diere van die veld wat op die Líbanon is, het verbygegaan en die distel vertrap.
10 U het inderdaad die Edomiete verslaan, daarom is u hart hoogmoedig; geniet die eer en bly tuis. Waarom wil u u tog in die ongeluk stort, dat u sou val, u en Juda saam met u?
11 Maar Amásia het nie geluister nie. Toe trek Joas, die koning van Israel, op; en hy en Amásia, die koning van Juda, het mekaar se aangesig gesien by Bet-Semes wat aan Juda behoort.
12 En Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug elkeen na sy tente toe.
13 En Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, die seun van Joas, die seun van Ahásia, by Bet-Semes gevang; en hy het in Jerusalem gekom en vier honderd el van die muur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort.
14 En hy het al die goud en die silwer geneem, en al die voorwerpe wat in die huis van die HERE en in die skatkamers van die huis van die koning te vinde was, en ook die gyselaars, en omgedraai na Samaría.
15 En die verdere geskiedenis van Joas, wat hy gedoen het, en sy magtige dade en hoe hy teen Amásia, die koning van Juda, geveg het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
16 En Joas het ontslaap met sy vaders en is begrawe in Samaría by die konings van Israel; en sy seun Jeróbeam het in sy plek koning geword.
17 En Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, het ná die dood van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, vyftien jaar gelewe.
18 En die verdere geskiedenis van Amásia, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
19 En hulle het ‘n sameswering in Jerusalem teen hom gesmee, sodat hy na Lagis gevlug het; maar hulle het agter hom aan gestuur na Lagis en hom daar gedood.
20 En hulle het hom op perde vervoer, en hy is begrawe in Jerusalem by sy vaders in die stad van Dawid.
21 En die hele volk van Juda het Asárja geneem, wat toe sestien jaar oud was, en hom koning gemaak in die plek van sy vader Amásia.
22 Hy het Elat gebou en weer aan Juda teruggebring, nadat die koning met sy vaders ontslaap het.
23 In die vyftiende jaar van Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, het Jeróbeam, die seun van Joas, die koning van Israel, in Samaría koning geword—een en veertig jaar lank.
24 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, hy het nie afgewyk van al die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.
25 Hy het die grondgebied van Israel herower van die ingang na Hamat af tot by die see van die Vlakte, volgens die woord van die HERE, die God van Israel, wat Hy gespreek het deur die diens van sy dienskneg Jona, die seun van Amíttai, die profeet, wat uit Gat-Hefer was.
26 Want die HERE het gesien dat die ellende van Israel baie bitter was en dit met almal sonder uitsondering gedaan was en Israel geen helper gehad het nie.
27 En die HERE het nog nie gespreek dat Hy die naam van Israel onder die hemel sou uitdelg nie; daarom het Hy hulle verlos deur Jeróbeam, die seun van Joas.
28 En die verdere geskiedenis van Jeróbeam en alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy geveg en hoe hy Damaskus en Hamat van Juda aan Israel teruggebring het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
29 En Jeróbeam het ontslaap met sy vaders, met die konings van Israel, en sy seun Sagaría het in sy plek koning geword.