1 Samuel

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31


Hoofstuk 17

En die Filistyne het hulle leër versamel vir die oorlog en bymekaargekom by Sogo wat aan Juda behoort, en laer opgeslaan tussen Sogo en Aséka in Efes-Dammim.
2 Maar Saul en die manne van Israel het byeengekom en laer opgeslaan in die dal van die terpentynboom en hulle in slagorde teenoor die Filistyne opgestel.
3 En die Filistyne het duskant teen die berg en die Israeliete oorkant teen die berg gestaan, sodat die dal tussen hulle in was.
4 Toe kom daar ‘n baasvegter uit die laers van die Filistyne, met die naam van Góliat, uit Gat; sy hoogte was ses el en ‘n span.
5 Daar was ‘n koperhelm op sy hoof, en hy het ‘n pantser van skubbe aangehad—die gewig van die pantser was vyf duisend sikkels koper—
6 en skeenplate van koper was aan sy bene en ‘n koperlans tussen sy skouers.
7 Die steel van sy spies was soos ‘n wewersbalk, en die lem van sy spies was van ses honderd sikkels yster, en die skilddraer het voor hom uit geloop.
8 En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle’n man uit, dat hy na my toe afkom.
9 As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien.
10 Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ‘n man, dat ons saam kan veg.
11 Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees.
12 En Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Betlehem-Juda, met die naam van Isai; hy het agt seuns gehad, en die man was in Saul se dae oud, op jare gekom onder die manne.
13 Maar die drie oudste seuns van Isai het Saul al in die oorlog gevolg; en die name van sy drie seuns wat in die oorlog gegaan het, was: Elíab, die oudste, en sy tweede, Abinádab, en die derde, Samma.
14 Dawid was die jongste, terwyl die drie oudstes Saul gevolg het.
15 En Dawid het heen en weer gegaan van Saul om die kleinvee van sy vader in Betlehem op te pas.
16 En die Filistyn het smôrens vroeg en saans nader gekom en gaan staan, veertig dae lank.
17 Toe het Isai aan sy seun Dawid gesê: Neem tog vir jou broers’n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en bring dit gou vir jou broers na die laer toe.
18 Maar hierdie tien skywe kaas moet jy bring na die owerste oor duisend, en jy moet ondersoek doen na die welstand van jou broers en van hulle ‘n pand saambring.
19 En Saul en hulle en al die manne van Israel was besig om te veg teen die Filistyne in die dal van die terpentynboom.
20 En die volgende môre vroeg het Dawid hom klaargemaak: die kleinvee aan die wagter afgegee en opgelaai en weggegaan soos Isai hom beveel het. En toe hy by die wa-laer kom, hef die leërmag wat na die vegterrein uittrek, juis die krygsgeskreeu aan.
21 Israel sowel as die Filistyne het slagorde teenoor slagorde opgestel.
22 Daarop gee Dawid sy pakgoed af onder bewaring van die oppasser van die pakgoed, en hy hardloop na die vegterrein. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers na die welstand.
23 En terwyl hy met hulle spreek, kom juis die baasvegter—Góliat is sy naam, die Filistyn uit Gat—uit die slagordes van die Filistyne op en spreek daardie selfde woorde, sodat Dawid dit hoor.
24 Maar toe al die manne van Israel die man sien, vlug hulle vir hom weg, want hulle was baie bang.
25 En die manne van Israel sê: Het julle die man gesien wat daar opkom? Want hy kom op om Israel uit te daag. En die koning sal die man wat hom verslaan, oorlaai met groot rykdom; ook sal hy sy dogter aan hom gee en sy familie in Israel vrystel van belasting.
26 Daarop het Dawid die manne wat by hom staan, gevra en gesê: Wat sal met die man gebeur wat hierdie Filistyn verslaan en die smaad van Israel wegneem? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?
27 En die manskappe gee hom dieselfde antwoord: Só sal met die man gebeur wat hom verslaan.
28 Toe sy oudste broer Elíab hom met die manne hoor spreek, het Elíab baie kwaad geword vir Dawid en gesê: Waarom het jy eintlik afgekom, en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien.
29 En Dawid sê: Wat het ek nou gedoen? Ek vra maar net.
30 En hy het by hom weggedraai na iemand anders en dieselfde woorde gespreek, en die manskappe het hom geantwoord volgens die eerste woorde.
31 Toe hulle die woorde hoor wat Dawid spreek en dit voor Saul meedeel, het dié hom laat haal.
32 En Dawid het aan Saul gesê: Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.
33 Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is ‘n seun, en hy is ‘n krygsman van sy jeug af.
34 Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar ‘n leeu of ‘n beer kom en ‘n stuk kleinvee uit die trop wegdra,
35 dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood.
36 U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het.
37 Verder sê Dawid: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die HERE met jou wees!
38 En Saul het Dawid sy klere laat aantrek en ‘n koperhelm op sy hoof gesit en hom ‘n pantser laat aantrek.
39 En Dawid het sy swaard bo-oor sy klere vasgegord, en toe hy moeite doen om te loop, omdat hy dit nooit probeer het nie, sê Dawid vir Saul: Ek kan nie hierin loop nie, want ek het dit nooit probeer nie. En Dawid het dit uitgetrek.
40 Daarop neem hy sy staf in sy hand en soek vir hom uit die spruit vyf gladde klippe uit en steek dit in sy herderstas wat hy gehad het, naamlik in die slingersak; en met sy slinger in sy hand het hy nader gekom na die Filistyn.
41 Ook die Filistyn het al nader en nader gekom na Dawid, en die skilddraer voor hom uit.
42 Toe die Filistyn opkyk en Dawid sien, het hy hom verag, omdat hy ‘n seun was—rooierig, met ‘n mooi voorkoms.
43 En die Filistyn vra vir Dawid: Is ek ‘n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode.
44 Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee.
45 Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.
46 Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ‘n God het.
47 Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee.
48 Toe die Filistyn hom dan klaarmaak en aldeur nader kom om Dawid te ontmoet, loop Dawid gou na die vegterrein om die Filistyn te ontmoet;
49 en Dawid steek sy hand in die tas en neem ‘n klip daaruit en slinger, en hy tref die Filistyn in sy voorhoof, sodat die klip in sy voorhoof indring en hy op sy gesig teen die grond val.
50 So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met ‘n slinger en ‘n klip. En hy het die Filistyn verslaan en hom gedood alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie.
51 Daarop het Dawid gehardloop en by die Filistyn gaan staan en sy swaard geneem, dit uit sy skede getrek en hom van kant gemaak, en hy het daarmee sy hoof afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood was, het hulle gevlug.
52 Toe het die manne van Israel en van Juda hulle klaargemaak en gejuig en die Filistyne agtervolg tot by die ingang na Gat en tot by die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne gelê het op die pad van Saäráim en tot by Gat en tot by Ekron.
53 Daarna het die kinders van Israel teruggekeer van die hewige agtervolging van die Filistyne en hulle laer geplunder.
54 En Dawid het die hoof van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring, maar sy wapens in sy tent neergesit.
55 Net toe Saul Dawid sien uittrek om die Filistyn te ontmoet, sê hy vir Abner, die leërowerste: Wie se seun is die jongman tog, Abner? En Abner antwoord: So waar as u siel leef, koning, ek weet dit nie!
56 En die koning sê: Vra jy wie se seun die jongman tog is.
57 En toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring, met die hoof van die Filistyn in sy hand.
58 En Saul vra hom: Wie se seun is jy, jongman? En Dawid sê: Die seun van u dienaar Isai, die Betlehemiet.